Odeion Sinfonia hou konsert - Elretha Britz

Die Kroasiese duo 2Cellos, bekend vir hul uitvoerings van pop- en klassieke musiek, lyk of hulle mekaar uitdaag in die eietydse Violoncelles Vibrez van die Italiaanse komponis Giovanni Solimma. Iets soortgelyks kan in die Odeion Sinfonia se konsert die naweek in Bloemfontein verwag word.

Die plaaslike tjelliste Chris van Zyl en Ashlin Grobbelaar is die soliste in dieselfde werk, met die tjellis Anmari van der Westhuizen op die podium. Van der Westhuizen is ook Van Zyl en Grobbelaar se dosent aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM), dus kan ’n gefokusde uitvoering verwag word.

Die Sinfonia, ’n studentestrykorkes van die OSM, open sy program met Cantus in Memory of Benjamin Britten, wat waarskynlik die Estlandse komponis Arvo Pärt se gewildste werk is. Pärt het dit as ’n elegie ná Britten se dood in 1976 geskryf, ter ere van dié Britse komponis wat volgens hom die suiwerheid openbaar het waarna hy (Pärt) streef. Die werk is in die vorm van ’n kanon.
Carl Nielsen, ’n 19de eeuse Deense komponis, het sy Little Suite for String Orchestra, op. 11 op 22-jarige ouderdom gekomponeer toe hy nog ’n student was. Die werk is die eerste keer deur die Tivoli-orkes in Kopenhagen uitgevoer met Nielsen een van die orkeslede.

So gewild was die musiek dat die gehoor Nielsen verskeie kere na die verhoog teruggeroep het.
Serenade for strings op. 11, ’n werk in vier dele deur die 20ste eeuse Sweedse komponis Dag Wirén, sluit die program af. Wirén is nie buite Swede bekend nie, behalwe vir dié serenade wat deel van internasionale strykorkeste se repertorium is.

Die konsert is 23 September om 19:30 in die Odeionteater, UVkampus. Toegang is gratis.

Ashlin Grobbelaar

Chris van Zyl

Comments