Musiekdroom ook in Bfn vervul

Die Vrystaatse Simfonieorkes (VSO) open sy jaar met twee soliste vir wie ’n droom ná dekades waar geword het en nou tot voordeel van plaaslike musiekliefhebbers herhaal word.
Pieter Schoeman (viool) en Anmari van der Westhuizen (tjello) wou van hul kinderjare in Stellenbosch saam speel in Brahms seDubbelconcerto, ’n geleentheid wat eers sowat 30 jaar later, in 2010, tot vervulling gekom het.
Daardie jaar het hulle dit voor ’n stampvol ouditorium en ’n juigende gehoor saam met die Johannesburgse Filharmoniese Orkes uitgevoer en nou kry musiekliefhebbers in Bloemfontein en Durban die geleentheid om na dié twee topmusici te luister.
Benewens Brahms se hoogromantieseConcerto vir Viool en Tjello, op. 102, sal Sibelius se strydlustige Simfonie no. 2 in D, op. 43 uitgevoer word.
Schoeman en Van der Westhuizen het op skool soos twee karperde aan hul musiek gewerk. “Dieselfde dag wat Pieter gehoor het hy kry die FAK-beurs vir laerskoolleerlinge het ek die FAK-beurs vir hoërskoolleerlinge ontvang. Ons het ’n hele paar jaar saam in ons eie kamerensemble gespeel en in 1983 is aan ons elkeen ’n beurs vir die Interlochen-somerskool in Amerika toegeken,” sê Van der Westhuizen.

In 1984 het Schoeman die Wêreld- Jeugconcerto-kompetisie in Amerika gewen en in 1987 die Heifetz-musiekbeurs, wat hom in staat gestel het om by Eduard Schmieder in Los Angeles te studeer.
Van 1991 het hy op aanbeveling van die befaamde violis Pinchas Zukerman sy studies in New York onder Sylvia Rosenberg voortgesit. Hy is drie jaar later as haar assistent aan die Indiana-Universiteit in Bloomington aangestel.
In die 1990’s het Schoeman ’n gloeiende sololoopbaan gehad en in bekende konsertsale soos die Concertgebouw in Amsterdam, die Rachmaninoff-saal in Moskou, die Capella-saal in St. Petersburg, die Staatsbiblioteek in Berlyn, die Hollywood Bowl in Los Angeles en die Queen Elizabeth-saal in Londen opgetree.
Sowat tien jaar later het hy Amerika verlaat en hom in Londen gevestig waar hy in 2002 as medeleier van die London Philharmonic aangestel is en van 2008 as konsertmeester.
Die orkes het al verskeie opnames met hom as solis gemaak en dit is ook onder sy leiding dat die London Philharmonic die klankbaan vir die beroemde Lord of the Rings-trilogie verskaf het.
Schoeman het benewens ’n konsertloopbaan ook ’n pos as viooldosent aan Trinity se Laban-konservatorium in Londen.
Van der Westhuizen het aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer en nagraadse uitvoerende kwalifikasies aan die Mozarteum in Salzburg, Oostenryk, en onder Maria Kliegel aan die Hochschule für Musik in Keulen, Duitsland, behaal.
Ná ’n internasionale loopbaan van agt jaar as solis en kamermusikus in Europa het sy na Suid-Afrika teruggekeer waar sy haar konsertloopbaan voortgesit het en aan die Universiteit van Kaapstad verbonde was.
Van der Westhuizen is sedert 2008 ’n groot aanwins vir die musieklewe in Bloemfontein, as hooftjellis in die VSO, hoof van die Odeion-strykkwartet en as tjellodosent.
In 2013 het sy ’n Ph.D. in musiekvoordrag aan die Universiteit van Pretoria verwerf en in 2015 is sy as medeprofessor aan die Universiteit van die Vrystaat aangestel.
Sy het verskeie CD’s uitgereik waarvan die jongste Romantic Sonatas saam met die pianis Ilse Schumann is.
Brahms se Dubbelconcerto, ’n gewilde werk in die standaardkonsertrepertorium, se sielvolle stadige beweging laat niemand onaangeraak nie.
Luister op YouTube daarna by bit.ly/dubbelconcerto
Die VSO se artistieke direkteur, Alexander Fokkens, sal op die dirigeerpodium wees. Die simfoniekonsert is op 13 Februarie om 19:30 in die Sand du Plessisteater. Kaartjies kos R150, R100 en R50 en is te kry by Pacofs by 051-447-7772 of die Sand se kaartjiekantoor in St. Andrew­straat.

Comments

  1. Thanks for sharing, nice post! Post really provice useful information!

    FadoExpress là một trong những top công ty chuyển phát nhanh quốc tế hàng đầu chuyên vận chuyển, chuyển phát nhanh siêu tốc đi khắp thế giới, nổi bật là dịch vụ gửi hàng đi mỹ, gửi hàng đi nhậtgửi hàng đi pháp và dịch vụ chuyển phát nhanh đi hàn quốc uy tín, giá rẻ

    ReplyDelete

Post a Comment